
Willem Fransman Jr
Op 23 Februarie 2019 het die DAK Netwerk het ‘n baie geslaagde Stories Onnerie DAK-aand in The Tea Garden Ravensmead gehou. Tog was dit die ongekunstelde Amanda Lois Stone wat die aanwesiges na hul asems laat snak het.
Ek het Stone bykans ses jaar gelede die eerste keer in lewende lywe sien optree, Dit was tydens ‘n fondsinsamelingsfunksie in Eersterivier. Diana Ferrus het haar aan die gehoor voorgestel as ‘n ‘onbekende sangeres wat jul sal surprise met haar voice’. Toe hierdie Blues sangeres die regte note haal, spring die gehoor op hul voete! Dit het my onmiddellik laat dink aan die woorde van die Amerikaanse burgerregte leier Martin Luther King Jr.
Toe King die sangsensasie Mahalia Jackson die eerste keer hoor sing, het hy uitgeroep: “A voice like hers comes only once in a millenium” Vir my ongeoefende musiek-oor was dit wat ek wou oor Lois Stone wou uitroep.
As Lois Stone, sonder opleiding, so goed kan sing, wat sou nie gebeur het as sy formele opleiding kon kry. Haar stem is ‘n kruising tussen Della Reece, Diana Ross en Aretha Franklin.
Maar soos dit met arm mense op die platteland…maar ook in die stede gaan, word eie ideale van kinders dikwels nooit eintlik bewaarheid nie. Reeds op 13-jarige ouderdom moes die jong dogter uitspring om te gaan help verdien.
Tog het sy haar ambisie, om haar sangloopbaan te bevorder, nooit laat vaar nie. Sy het haar Sondae in koorsang en enige ander geleenthede in die kerk, uitgeleef. Sang was haar manier vir ontvlugting!
Maar in haar hart van harte het sy die ritme van die die Khoi en die San, polsend in haar lyf gevoel beweeg. Later jare sou sy dan ook as die ‘Khoi-Noi’ bekend gestaan. In haar hart had sy die brandende begeerte om haar Blues- en Jazz-klanke by die rielklanke (‘n ander voorliefde) in te werk.
DAK Netwerk, wat die hulle beywer om die meerderheid Afrikaanssprekende gemeenskappe te bemagtig, met die aktiewe leiding van dr Willa Boezak, het Amanda gehelp om ‘n CD, ‘Khoi-Noi’ te ontwerp en uit te gee.
In haar soeke na erkenning het Stone ook ‘n draai op die talentprogram, ‘SA’s Got Talent’, gemaak. Dáár het sy die beoordelaars en die gehoor in trane gehad met haar verstommende sangtalent en stem.
Hou maar gerus die naam Amanda Lois Stone dop. Dis net ‘n kwessie van tyd voordat sy haar groot deurbraak maak.
Ware talent kan niemand immers onder ‘n maatemmer wegsteek.