Bruin Suid-Afrikaners het geen politieke tuiste nie, kan met min van die land se geskiedenis identifiseer en word in die heersende diskoers onderdruk.
Dít is die mening van Sylvia Vollenhoven, bekroonde dramaturg en veteraanjoernalis, wat glo bruin mense se belange word voortdurend opsy gestoot.
“As jy die woord kleurling of colouredhoor, kan jy dit nie met ons land se geskiedenis verbind nie. Deurdat ons geskiedenis onderdruk word, het ons bitter min plek in die samelewing,” het Vollenhoven gesê.
Sy en Rhoda Kadalie, bekende menseregteaktivis, was gaste by die Breytenbach-galery in Wellington se gespreksgeleentheid oor klassifikasie, rassisme en nostalgie.
Die gespreksleier was Andries Bezuidenhout – sanger, liedjieskrywer, digter en beeldende kunstenaar.
Vollenhoven glo bruin mense is bekend vir “moderne siektes” soos bendegeweld en dwelmmisbruik.
“Bruines word van hul identiteit beroof deurdat hulle kleurlinge of coloureds genoem word. Hulle word losgemaak van hul geskiedenis.
“Bruines was die eerste mense van die land. Ons besit egter baie min grond. Ons is afgesny van die ekonomiese en politieke debat in die land. Dit lyk asof bruines nie meer belangrik is nie,” het Vollenhoven gesê.
Op ’n vraag of bruin mense ’n politieke tuiste in Suid-Afrika het, het Vollenhoven gesê: “Ek het geen geloof in enige politieke party nie. Die ANC en PAC wat ’n hoop vir alle Suid-Afrikaners was, het hul slag verloor.”
Kadalie, ook uitvoerende hoof van Impumelelo: Stellenbosch Academy for Social Innovation en lid van die F.W. de Klerk-stigting, het in haar spreekbeurt gesê Engelse wit Suid-Afrikaners “kom met moord weg” in die rassedebat.
“Hulle bly in Claremont en Rondebosch. Die Engelse beskuldig altyd die Afrikaners dat hulle na die verlede verlang.”
Oor nostalgie het Kadalie gesê dit is ’n pynlike verlange na jou tuiste of verlede.
“Daar is baie mense wat verlang na hul verlede. Dit kan dalk net wees dat hulle verlang na hul tuiste of na waar hulle oorspronklik vandaan kom.
“Daar is mense wat glo dat die onderwysstelsel in die apartheidsera veel beter was as wat dit tans is. Ek is ook bly dat ek in daardie jare opgelei is, maar die regering van vandag moet beter regeer en met meer selfvertroue, sodat niemand kan sê hulle is slegter af as tydens die ou regering nie,” het sy gesê.
“Nostalgie is soos ’n grammatika-les – it contains the present tense, and the present perfect tense,” het sy geskerts.
Lees meer hier : https://www.netwerk24.com/Nuus/Algemeen/bruin-mense-beroof-van-hul-identiteit-20160501