Conrad‌ ‌Sidego‌, ons‌ ‌onthou‌ ‌jou!‌

“Leiers volg nie gebaande weë, dis vir volgelinge”

So wil ons graag vir Conrad Sidego onthou: as ‘n leier van sy mense, ‘n voorloper, ‘n baanbreker, pionier, patriot…as die een wat voor moes loop. Om vir ons, as gewone, soms bang sterwelinge gerus te stel:

‘Ek het die toekoms gesien…en daar is baie geleenthede vir ons mense’

En ons het Conrad geglo…in hom geglo. Want Conrad Sidego was een van ons. Opvoeder, kerkmens, gemeenskapsmens, dienaar van sy mense, ‘n omgee-mens by uitstek.

Maar toe ek vanoggend by Dr Danny Titus van Conrad se heengaan verneem, het een gebeurtenis, waaroor ek en hy nogal lank gepraat en eposse uitgeruil het, my weer bygeval.

Hy het bewus geword van ‘n tragiese gebeurtenis waarin ‘n jong dogter, Daniella de Wee haar lewe verloor het. Op pad na die skryf van haar laaste matriekvak, op 12 November 2008, is sy en haar stiefvader deur ‘n sterk afkomende rivier op ‘n plaas in De Doorns meegesleur.

Haar stiefvader het ongedeerd daarvan afgekom, maar Daniella se lyk is eers 8 jaar later deur konstruksiewerkers gevind. Hulle was besig om die inloop van die dam dieper te maak.

Daniella, wat net haar laaste vak Afrikaans wou gaan skryf, se lyk is onder 2 meter-diep slyk opgegrawe. Die verwerwing van haar matriek sertifikaat sou deure vir haar oopmaak. Die een dokument wat haar paspoort tot ‘n beter lewe sou wees.

De Wee se verhaal sou maar net weer afgegaan het as net nog ‘n verlies…nog ‘n kind tragies gedood.Maar, toe haar verhaal by Conrad Sidego, self ‘n plaaskind uitkom, het hy haar as heelmens, aan ‘n wêreld daar buite, voorgestel.

Kort na haar tragiese dood word Conrad deur Hexrivier Senior Sekondere skool gevra  om as geleentheidspreker by hul Matriekprysuitdeling op te tree. In ‘n roerende toespraak, wat later in Die Burger verskyn het, gee hy ‘n woordportret van die uitsigloosheid van ‘n plaaskind, asook wat Daniella aangedryf het om daardie noodlotsoggend haar Afrikaanse vraestel te gaan skryf. Ironies nogal, was die opskrif: “‘n Trofee vir Daniella se dapperheid”

Ter afsluiting pleit Sidego: “Om hierdie rede sal ek graag wil sien dat ons met ‘n Daniella de Wee-trofee, die dapperste matriekulant jaarliks ‘n kans gee om die Daniella de Wee-trofee van oorwinning, in die Hexvallei, te lig.”

Die Frolicks-gesin van Wellington, het toe gehoor gegee en ‘n trofee geskenk. Op 9 November 2017, nege jaar na Daniella se dood, was Conrad weer uitgenooi. Die keer om die trofee te kom oorhandig en spreker te wees.

In sy toespraak meld hy: ” Wanneer die trofee oorhandig word, vereer ons nie net Daniella se deursettingsvermoë nie, maar ook die poging van so baie Suid-Afrikaners om die meesleurende rivier van armoede en gebrek, suksesvol oor te steek na ‘n beter lewe.

Dit is die Conrad Sidego wat ek graag wil onthou…nie noodwendig die oud-onderwysman, nie die beskeie vryskut-korrespondent van Tulbagh, nie die eerste oud-redakteur van Ekstra Rapport, nie die oud-Ambassabeur in Denemarke deur president Mandela aangestel, nie eens die oud-burgemeester van Stellenbosch, nie eens die direkteur van verskeie maatskappye nie. Ander kan daaroor skryf.

Vir my sal hy altyd Conrad Sidego, die een mens wat na aan sy mense, sy gemeenskappe gebly en gelewe het.

Conrad, nou het jy die Styx oorgesteek. Ons sal jou mis hier ondermaans.

Maar baie dankie dat ons, vir ‘n rukkie, soms, in jou dampkring kon wees… en soos jy altyd so op jou unieke en tergende wyse versoek dat ons maar ons storie tussen ons meisies moet hou.

Mooi loop, 

Kind van die goeie aarde.

-geskryf deur Willem Fransman Jr, namens die Dak-Netwerk direksie & gemeenskap

Posted in ,

Jongste plasings

Fred Mouton, een van die voorste spotprenttekenaars, sterf.

Fred Mouton het gesterf. Hy was een van die voorste spotprenttekenaars wat groot humor in soms sensitiewe- en kernsake geplaas...

Afrikaans en die San en Khoi tale moet as inheemse tale erken word.

Die minister van hoër onderwys en opleiding het uiteindelik erken dat Afrikaans en die San en Khoi - tale as...