DAK Netwerk trots op dr. Marlene le Roux

Dr. Marlene le Roux, die DAK Netwerk is verstaanbaar trots op jou en wens jou sterkte toe met die taak voor hande.

DAK Netwerk wil dr. Marlene le Roux, tans uitvoerende bestuurder van die Kunste Kaap, gelukwens met haar aanstelling as Uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taal en Kultuurvereniging (ATKV)-direksie. Vir ons, as organisasie wat dit ons erns maak om die meerderheidssprekers van Afrikaans te bemagtig, is dit ʼn riem onder die hart.

Terselfdertyd wil ons die ATKV gelukwens met die aanstelling van hierdie dinamiese dame wat nooit skroom vir uitdagings nie. Nie net klop haar hart warm vir mense, veral die weerloses en die gemarginaliseerdes, maar is sy ook by uitstek, ʼn diplomaat vir diversiteit. Vir twee termyne het sy as eerste vroulike voorsitter van die Wes-Kaapse Kommissie vir Kultuur, Godsdiens en taalgemeenskappe, vreesloos diens gelewe.

Haar betrokkenheid by die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans spreek ook boekdele van haar gemeenskapsbetrokkenheid. Terselfdertyd het sy, as bedryfshoof by die Kunstekaap, grondverskuiwende werk aldaar en veral vir skoolgaande kinders van die Kaapse Vlakte verrig het.

Alhoewel verskeie gesogte toekennings hier ter plaatse en ook oorsee aan haar gemaak is, skort daar niks met haar toewyding nie. Mens kan begryp waarom sy juis in Wellington gebore moes word, want hierdie plattelander se wortels is goed geanker. Haar voete op terra firma geplant. En haar bona fides is bo verdenking. Want vir ons bly sy ʼn sout van die aarde mens…ʼn ware kind van die goeie aarde.

Ons is van mening dat die ATKV nie ʼn geskikter persoon, as juis sy, kon aanstel om hulle na hul eeufees te neem nie.

Dr. Marlene le Roux, die DAK Netwerk is verstaanbaar trots op jou en wens jou sterkte toe met die taak voor hande.

Daniel van Wyk (Interim Voorsitter)
en die DAK Netwerk-direksie

Posted in ,

Jongste plasings

Fred Mouton, een van die voorste spotprenttekenaars, sterf.

Fred Mouton het gesterf. Hy was een van die voorste spotprenttekenaars wat groot humor in soms sensitiewe- en kernsake geplaas...

Afrikaans en die San en Khoi tale moet as inheemse tale erken word.

Die minister van hoër onderwys en opleiding het uiteindelik erken dat Afrikaans en die San en Khoi - tale as...