“Alhoewel die geleentheid geskep is om individue te vereer, het die aand se verrigtinge by my ’n groter realiteit en doel van DAK Netwerk benadruk. Die verering van mense van ons gemeenskap is ook om die media se doelbewuste wanpersepsies van ons gemeenskap nek om te draai en daarmee saam die trots van ons gemeenskap op ’n sigbare wyse aan die nasie ten toon te stel. Dit opsigself was vir my die vreugdeboodskap van die aand – ’n bewustelike inisiatief van DAK Netwerk om ons mure van respek en waardigheid te herbou as fondasie van die huidige generasies en die na ons.” – Johan Landsman
Vanjaar se DAK Netwerk gala-aand is op 18 Oktober 2019 gehou en was ’n viering van mense wat Afrikaans in hul gemeenskappe bevorder en ’n verskil maak.
“Ons moet ons gemeenskappe help om saam weg te beweeg van gepolariseerde gesprekke na nuwe inklusiewe narratiewe … stories wat mense bymekaarbring.” So het Stan Henkeman, direkteur van die Instituut vir Geregtigheid en Versoening, tydens sy toespraak as gasspreker by die Dak Netwerk gala-aand gesê. Henkeman het ook gevra dat ons ons denke moet verander sodat ons in plaas van probleme, moontlikhede sien. Op die manier kan ons uitdagings ons gawes word.
Kyk hier na ’n deel van sy treffende toespraak
David Piedt wat die toekenning vir sy lewensbydrae tot die bevordering van onderwys en opvoedkunde ontvang het, som die toekennings so op:
“Ons bruinmense het oor die jare heen hierdie haat-liefde-verhouding met Afrikaans. Maar, na 1994 het baie van ons gedink dat dit nou geleë is om ons taal- en kultuurgoedere ons eie te maak, sonder om enigsins apologeties vir ons optrede te wees. Dankie DAK dat julle instrumenteel is en op verskeie vlakke probeer om die bruin Afrikaanssprekende en die soekende jeug te heroriënteer, te beȉnvloed, te sensiteer en te onderrig, deur aan hulle nuwe perspektiewe voor te hou, vir ’n moontlike hartsverandering, wat hulle later moontlik in staat kan stel om vervreemding van hulle eie te bowe te kom.
“Wanneer daar ‘n begeerte ontstaan om diensbaar te wees, ’n gewilligheid om te offer, en om andere se belange voor jou eie te stel, dan het jy jouself beskikbaar gestel, en ‘n belegging gemaak waarvoor jy moontlik nie die divident van sal kry nie. Ons is so afhanklik van mekaar, en as die afhanklikheid nie bedien, versorg en behandel word nie, tree verwerping, eensaamheid en wanhoop in, in die lewe van diesulkes wat op jou ondersteuning aangewese is.
“Die wanpraktyke en die sosiale ongeregtighede van die verlede, het jou geforseer om by jou gemeenskap se wel en weë betrokke te raak. Met die koms van die nuwe samelewing, moes ons almal van vooraf leer om gemeenskaplike waardes te skep en te deel – waar diversiteit en inklusiwiteit hul volwaardige staanplek kan kry. Spontane, onbaatsugtige diens in jou gemeenskap, sluit nooit die vooruitsig van belonging in nie, maar as jy die goedkeuring van die gemeenskap wegdra om vereer te word, dan is die gevoel en die waardering grensloos.”

Haidee Muller vir haar lewensbydrae tot die bevordering van Afrikaanse media
Haidee is ’n bekende joernalis wat langer as ’n dekade haar gemeenskap in tydskrifjoernalistiek verteenwoordig het. Deesdae is sy deel van die 360-span saam met Martelize Brink en Johan Rademan op RSG. Sy vervaardig buitelug-insetsels vir die program en timmer so nou en dan ook dokumentêre programme vir die stasie aanmekaar. Daarby is sy die aanbieder van die musiekprogram Haidee se Wegtreknommertjies en Hoe Verklaar Jy Dit?

Glenda Mnqwazi vir die bevordering van taalvaardigheid binne haar gemeenskap.
Glenda is reeds die afgelope vier jaar betrokke by Doen en Leer – ’n Afrikaanse program waardeur sy kinders in haar gemeenskap bemagtig. Sy werk veral met swart leerders wat daarmee sukkel om in Afrikaanse skole in te skakel. Sy leer hulle nie net om die taal baas te raak nie, maar ook om ’n liefde vir Afrikaans te ontwikkel.

Johan Landsman vir sy lewensbydrae tot die bevordering van sportontwikkeling
Johan is ’n bekende wêreld- langafstandatleet wat gedurende sy loopbaan talle rekords laat spat het. Hy is ’n rolmodel in sy gemeenskap.

Suzie Mathys vir die bevordering van entrepreneurskap.
Suzie is mede-eienaar van Suzi’s Coffee and Craft Shop in Kuilsrivier waar sy in die hart van haar gemeenskap diensbaar is op verskeie vlakke. Sy verskaf werk en ’n afsetpunt vir plaaslik vervaardigde produkte.

William Sezoe vir sy bydrae tot die bevordering van Afrikaans onder die jeug
William is tans ’n matrikulant aan die New Orleans Sekondêre Skool in die Paarl. Hy is onderhoofseun en redakteur van sy skoolkoerant. Hy behartig die radioprogram Afrikaans is Tops op Radio KC en bereik sowat 75 000 luisteraars in die Paarl-Vallei. Buiten radiowerk, skryf hy ook gereeld vir die Paarl Post en Eikestadnuus oor Afrikaans en in Afrikaans. Hy is onlangs verkies as die voorsitter van die ATKV-Jeugtak by New Orleans Sekondêre Skool en is ook gereeld betrokke by die Afrikaanse Taalraad se jeuggesprekke. Hy is ook ’n ambassadeur vir Afrikaans.

Ameen Levy vir sy lewensbydrae tot die bevordering van kreatiewe musiekontwikkeling
Van voorsanger, DJ en solokunstenaar tot radio-omroeper en vervaardiger van die gewilde TV-program, Maak ’n Las , is Ameen veral bekend vir sy mentorskapprogramme vir jongmense wat in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf presteer.

Willie Bester ontvang die toekenning vir sy lewensbydrae tot die bevordering van kreatiewe kunste
Willie Bester is een van Suid-Afrika se bekendste kunstenaars wat veral ’n impak maak deur sy sosiale en politieke kommentaar en die besondere mediums wat hy gebruik.

David Piedt vir die bevordering van onderwys en opvoedkunde
David was onder meer ’n stigterslid, direkteur en voorsitter van Klein-Karoo Nasionale Kunstefees, raadslid vir die Suid-Kaap Kollege vir Verdere Onderwys en Opleiding, stigterslid en eerste voorsitter van die Kairosskool vir gestremde leerders op Oudtshoorn en uitvoerende bestuurslid van die Kaaplandse Professionele Onderwysersunie. Sy loopbaan in die onderwys dien as inspirasie.