Prof. Michael le Cordeur, ons gasspreker tydens die herdenking van Slawevrystellingsdag op 1 Desember by die Taalmonument, het slawerny aan die Kaap beskryf op ’n wyse wat ons nog lank sal bybly. Lees sy toespraak hier.
Die vrystelling van die slawe
‘n Gesamentlike funksie deur die Taalmonument en die DAK-netwerk
Goeienaand almal en dankie aan Danie van Wyk en Michael Jonas vir die geleentheid om iets oor die geskiedenis van die slawe – so baie van ons se voorouers – met julle te kan deel. Ek wil begin deur ‘n paar mense aan julle voor te stel wat hul mense gedien het as uitstaande leiers; al was hulle slawe of slawekinders.
Abdullah Abdurahman is op 18 Desember 1872 in Wellington gebore. Hy ontvang sy skoolopleiding aan die South African College School, (SACS) waarna hy medies in Glasgow, Skotland, studeer en in 1893 as dokter kwalifiseer. Hierna begin hy ‘n mediese praktyk in sy geboortestad. Hy was ‘n mediese dokter, ‘n gerespekteerde politikus en ‘n prominente leier van die bruin gemeenskap.
Hy was die eerste lid van kleur van die Kaapse stadsraad; van 1904 tot en met sy dood, en beywer hom om die bruin gemeenskap op te hef, veral op die gebied van onderwys toe hy die eerste sekondêre skole vir bruin mense in Kaapstad help oprig. Aburahman was ook die eerste persoon van kleur wat tot die Kaapse Provinsiale Raad verkies is (1914 tot sy dood).
In 1902 stig hy die anti-segregasie-beweging African Political Organization waarvan hy die leier was. Die party se doel was om die toenemende rasse-onderdrukking in die land te beveg, aanvanklik net namens nie-Afrika-gekleurde (bruin mense). Abdurahman het onsuksesvol twee delegasies na Londen gelei om stemreg vir bruin mense te verseker (voor die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrtika). Later het sy party begin om nader met swart politieke leiers te werk, in ‘n poging om ‘n verenigde front te skep.
Abdurahman was ook ‘n skrywer, onder die skuilnaam, Piet Uithaler en raak veral bekend vir werk as politikus en vegter vir Afrikaans. Sy rubriek, Straatpraatjies, wat in die tydperk 1909-1922 in die African People’s Organization (APO) tydskrif verskyn het, is een van die eerste voorbeelde hoe Afrikaans as politieke versettaal gebruik is.
Abdurahman was getroud met Helen (Nellie) Potter James, wat hy in Glasgow ontmoet het – met twee dogters, Waradea “Rosie” en Zainunnisa (Cissie) Gool. Die jonger Cissie (1900-1963), het in haar eie reg ‘n belangrike politieke figuur. Op 2 Februarie 1940 sterf Abdurahman aan ‘n hartstilstand. Sy begrafnis is deur 30 000 mense bygewoon. Albei sy oupas was slawe wat hul vryheid gekoop het. ‘n Straat in Wellington is na om vernoem maar hy verdien baie beter as dit.
Slawerny onder die Nederlandse bewind
In 1652 vestig Jan van Riebeeck ‘n verversingspos aan die Kaap. Die werk was baie en die hande min. Hy vra dus slawe aan vanaf sy Nederlandse base. Die eerste slaaf, Abraham van Batavië (die hedendaagse Sri Lanka), kom in 1653 in die Kaap aan. In April 1657 was daar 10 slawe aan die Kaap. Die slawetal het aansienlik vermeerder toe die Nederlanders ‘n Portugese slaweskip met 500 Angolese slawe aan boord gekaap het en die slawe gesteel het. Nog slawe is in Mauritus en Madagaskar gevang vir die verversingspos in die Kaap.
Slawerny onder die Britse bewind
In 1795 neem die Britte die Kaap oor en aanvaar in 1807 die wet op slawehandel wat hulle in 1808 afgedwing het binne die Kaapse kolonie.
Ontmoet Clara Belle Williams
Dit is vandeesweek ook die 16 dae van aktivisme teen vroue mishandeling. Daarom wil ek die lewensverhale van twee merkwaardige vroue met julle deel. Clara Belle Williams was die eerste swart gegradueerde van die New Mexico State University (NMSU). Baie van haar professors het haar nie toegelaat om in die klas te sit nie; sy moes in die gang, by die deur staan en notas neem. Sy is ook nie toegelaat om saam met haar klasmaats na die verhoog te stap om haar sertifikaat te ontvang nie. Maar sy het volhard: sy het ‘n onderwyseres geword wat bedags swart student geleer het, en saans het sy vir hul ouers (almal voormalige slawe) klas gegee in Huishoudkunde. Sy het langer as 100 jaar gelewe (werk maak jou nie dood nie). Na haar haar dood het NMSU die Engelse Departement se hoofgebou na hierdie dogter van ‘n slavin vernoem.
Die pyn van slawerny
Daar word dikwels die aanname gemaak dat “bruinmense “nie so swaar gely het onder die Europese magshebbers nie. Die feite vertel ‘n ander storie. Slawe is soos diere in die bos gevang en met slaweskepe na SA en elders vervoer waar hulle op veilings verkoop is. Dan moes hulle tot hul sterwensdag vir hul eienaars werk, selfs hul kinders sou slawe word… teen hul sin … daarom is dit belangrik dat ons kennis neem van mense soos Dr Abdurahman, wat uitgestyg het bo sy omstandighede.
Volgens oorlewing is slawe in private diens in Kaapstad goed behandel, maar die waarheid is dat onsmenslike reëls gegeld het wat hul menswaardigheid volgens vandag se standaarde ernstig aangetas het en soms selfs hul dood beteken het. In 1753 is ’n stel reëls vir slawebeheer opgestel deur die destydse Kaapse goewerneur, Rijk Tulbagh—die sg. Tulbagh-Kode. Een van dié was ’n klokreël waarkragtens slawe teen tienuur saans binnenshuis moes wees. Indien hulle buite moes wees, moes hulle ’n pas en ’n lantern dra. Slawe is ook verbied om snags te sing, fluit of enige geluid te maak. Hulle is belet om te perd of ’n wa deur die Kaapse strate te ry en op vakansiedae in groepe saam te drom en nie in kroeë (taphuise) toegelaat nie.
Dié wat valse bewerings gedoen of die Kaapse vryburgers beledig het, moes in kettings aangehou en in die openbaar gegesel word. Slawe wat hulle teen hul base verset het, is met die dood gestraf. Daar was die keer toe ’n slaaf se regterhand afgekap is nadat hy aan moord en brandstigting skuldig bevind was. Voor dit is hy eers half verwurg en daarna op ’n “stadige vuur” gedood. Die stadige vuurdood was die straf vir brandstigting.
Van 1680 tot 1795, is gemiddeld een slaaf per maand in die Kaap tereggestel. Die hangende ontbindende lyk van ’n slaaf wat tereggestel is, is op een plek in die moederstad vir openbare kennisname vertoon, later afgehaal en dan weer elders hangend uitgestal om ander slawe ernstig te waarsku om hulle te gedra. Een van die aakligste vonnisse was dié van Franciscus Xaverus in 1721. Daar is gelas dat hy onderstebo gekruisig moes word. Ná sy dood is sy lyk deur die strate gesleep na die Galge-heuwel by Groenpunt om daar te hang tot die voëls van die hemel dit verteer het.
Viering van vryheid
Die Kaapse klopsekarnaval is ’n geleentheid wanneer die nasate van die eertydse slawe en hedendaagse Kapenaars fees vier. Hulle vier hul vryheid, maar agter dié uitbundigheid is ’n ryk maar hartseer geskiedenis. Slawe kon nie saans sing of fluit nie, maar een dag van die jaar het die slawe ’n af dag gehad. Op Tweede Nuwejaar kon hulle ’n bietjie ontspan en sosiaal verkeer. Deur die geskiedenis was dit ’n geleentheid om die bordjies te verhang; as die onderdruktes – net een dag – die gek kon skeer met hul onderdrukkers. Nuwejaar is vakansietyd in die Kaap. Die feesvieringe vind derhalwe in die strate plaas en het nog altyd gepaard gegaan met uitbundige musiek, sang en dans.
Philida
Soos opgeteken deur Andre P Brink,in sy slaweroman met dieselfde naam, was Philida ’n slavin op die plaas Zandvliet wat afspeel in die tydperk voor en tydens die vrystelling van slawe aan die Kaap. Die verhaal van Philida begin in die jaar 1832, as Philida vanaf Zandvliet (vandag bekend as Solms Delta) in Groot Drakenstein, kaalvoet Stellenbosch toe loop om daar by die slawebeskermer ’n klag in te dien teen Frans Brink, seun van die plaaseienaar, by wie sy vier kinders gehad het. Hy het nie sy belofte om haar vry te koop, nagekom nie.
Verhouding tussen slavin en baas
Philida se verhouding met Frans is tekenend van die verhaal van slawerny aan die Kaap: ‘n mooi slavin raak betroke in ‘n verhouding met haar eienaar – in hierdie geval met die eienaar (baas Cornelius Brink) se seun, Frans (kleinbaas). Dis ’n verhaal waarin die vennote van hierdie verhoudings nooit op gelyke voet kon meeding nie. Hoeveel sê het die slavinne gehad in hierdie verhoudings? Kon hulle werklik ‘nee” sê as die baas hulle vir saamslaap beveel het, of was dit ook maar net ‘n opdrag wat die slaaf moes uitvoer soos een van die talle ander take wat hulle moes verrig? Jakes Gerwel het gesê dit is “ intieme wreedheid.”
Hierdie perverse intimiteit van slawerny kry verder beslag in die verhouding van Frans se pa, Cornelis, met Philida se peet-ouma Petronella. Cornelis, erken dat hy die kind is van Philida se peet-ouma, en was die opperste wreedaard. Om sy lafhartige seun, Frans, teen Philda se klag by die slawebeskermer te beskerm, laat Cornelis haar in die openbaar deur twee jong slawe van die buurplaas L ’Ormarins verkrag. By ’n latere geleentheid probeer ook hy om haar te verkrag.
Ten spyte dat hy ‘n lafaard en swakkeling is, wat nòg die wil het om teen sy sadistiese pa op te staan, en nòg die manlike ordentlikheid om vir die vrou wat hy liefhet (of so het hy gesê), te veg, word Frans se woord bo hare aanvaar. Was dit slawerny of apartheid in sy vroeë stadia? Juis daarom is so noodsaaklik dat ek Philida se verhaal met julle deel: nie net om die verwronge feite van die verlede reg te stel nie, maar ook om die voorbeeld wat Philida aan ander vroue gestel het, om self iets te doen om haar vryheid te bekom, te deel.
Christenskap vs Islam
Die verhaal van Philida toon ook waarom die meeste slawe na slawerny NIE die Christengeloof van hul base gevolg het nie. Op meer as een geleentheid laat blyk Frans en Philida dat Cornelis se gedwepery met Christenskap en die Bybel hulle eintlik walg. So sou hy die aand na Philida se openbare verkragting, sy optrede probeer regverdig uit die Bybel deur – volgens hom – die gepaste gedeeltes voor te lees. Geen sou Philida haar tot die Islam wend, nadat Cornelius haar en haar twee blondekopkinders in Worcester aan meester De la Bat verkoop het. Sy het later ‘n verhouding met Labyn wat haar nie net bekend stel aan die Islam geloof nie, hy help ook om haar op ‘n ander manier te bevry: hy sou haar leer lees en skryf, in vandag se konteks ‘n besonder kragtige bemagtigingsaksie wat bydra tot haar uiteindelike emanispasie.
Tema: die strewe na vryheid
Om slaaf te wees is om die mees uiterste teenstelling van vryheid te beleef … dat alles van buite af vir jou besluit word. Jy moet net luister en maak soos hulle sê. Of dit nou is om hom kos te maak, “of moes kromstaan dat die slawebaas jou met ’n sambok kan bykom.” Philida het dikwels opgemerk dat sy nooit ’n slaaf “was” nie, maar “aangehou is as slaaf”.
Vir my is dit ‘n groot verskil. Dis my belewing dat baie voormalige slawe is juis slagoffers van hul eie onvermoë om soos vrymense te leef, om steeds as agterryer vir die baas op te tree, soos verklank deur die nou al bekende spreekwoord ” Ek het maar net saam met die baas gekom”.
Hierin is ‘n groot stuk waarheid. Is dit maar die probleem vandag op ons plase en die samelewing nie? Ons betoog vir Vryheid, maar wanneer mense alleen in die baas se teenwoordigheid is, kan hulle, anders as Philida, nie opstaan vir hulself nie. So kry Philida ‘n universele betekenis.
Afskaffing van slawehandel
In 1833 is die wet op die afskaffing van slawerny by wyse van ‘n koninklike bekragtiging goedgekeur. Dit het die weg gebaan vir die afskaffing van slawerny in die Britse Ryk en sy kolonies op 1 Desember 1834. Hulle is egter vir nog vier jaar in die diens van hul voormalige eienaars geplaas in ‘n soort van vakleerlingskap wat eers in 1838 geëindig het. Dit verklaar waarom slawe sulke goeie vakmanne en ambagsmanne was. Messelaars, timmermanne, kleremakers, en baie ander. Die talle mooi kerke, bergpasse, en geboue soos die kasteel is die slawe se handewerk.
Slotopmerking
Philida speel af tydens ’n belangrike oorgangstyd in die Suid-Afrikaanse geskiedenis: die afskaffing van slawerny. Die reis wat die jong slavin, Philida, te voet moes aflȇ op pad na haar vryheid en emansipasie is ‘n voorbeeld vir elkeen van ons, veral elke vrou. Voor die aankondiging dat slawerny op 1 Desember 1834 afgeskaf sou word, het baie semen teen slavinne se bene afgeloop. Wat vandag as statutȇre verkragting bekend sou staan waarvoor die skuldiges jarelank in die tronk sal deurbring, is destyds beskou as een van die basiese regte van die slawebaas.
Slawe moes hul lewens kaalvoet aanpak, dis ‘n manier om jou gevange te hou, byna soos voetboeie, skoene was ‘n manier om te ontvlug. Op 1 Desember haal Floris, die skoenmaker, vir almal op die werf ‘n paar skoene uit wat hy vir hulle gemaak het. Op daardie historiese dag in 1834 kry Philida, Labyn, en Philida se twee kinders, Lena en Klein Willem vir die eerste keer in hul lewe skoene. En dan weet jy dat ook hierdie stil slaaf geglo het, dat hierdie bitter lewe van slawerny tot ‘n einde sou kom, móés kom. Die skoene getuig van weke, selfs maande se handewerk. So word Philida se droom bewaarheid. Saam met die skoene kom die Vryheid. Word die lewe van die eens kaalvoetslaaf finaal afgeskud en ervaar sy uiteindelik die “Jirregot se liefde”.
Oor tyd het Philida tot die besef gekom dat ware vryheid kom van binne. Dis een ding om vrygestel te word deur wetgewing, dis ‘n heel ander ding om steeds verkneg te wees aan intellektuele slawerny. Ek sluit af met die slavin Philida se eie woorde.
Toe sy gevra is “wie is jy?”, antwoord sy:
“Ek is Philida van die Caab. Hierdie ek wat vry is. Hierdie ek wat eens slaaf was. Ek wat nou volledig mens is. Ek wat eintlik alles is. Want ek is vry”.
Prof Michael le Cordeur
1 Desember 2021
Paarlberg
Bronne: Wikipedia; Mieliestronk.com; Philida,’n Slaweroman deur André P Brink; Resensie deur Jakes Gerwel.
