
“Sy was ‘n uitstekende, hardwerkende en gerespekteerde akademikus wat onderskeidelik twee doktorsgrade aan die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA) en die Universiteit van Pretoria (UP) verwerf het.”
“Ds prof MA Plaatjies-Van Huffel was ‘n merkwaardige vrou” …huldeblyk deur Dr Llewellyn LM MacMaster
Die Moderatuur van die Kaapse Streeksinode Kaapland van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA) is verpletter deur die afsterwe van ds prof Mary-Anne Plaatjies-van Huffel. Op Dinsdag, 21 April 2020, het prof Plaatjies-Van Huffel ‘n operasie ondergaan en het sy in die hospitaal gebly tot haar heengaan op Dinsdag 19 Mei 2020.
Prof MA Plaatjies-van Huffel was mede-leraar van die VGK Scottsdene in Kraaifontein en lid van die Moderatuur van die Streeksinode Kaapland. Sy is getroud met ds Dawid Johannes van Huffel – predikant van die VGKSA Scottsdene.
Ds prof MA Plaatjies-Van Huffel was ‘n merkwaardige vrou. Sy was in vele opsigte ‘n baanbreker, ondermeer die eerste vrou wat in die destydse NG Sendingkerk as predikant georden is. Sy was die eerste vrou wat verkies is as Moderator van die VGKSA en die eerste vrou wat as Aktuarius van die Kaapse Streeksinode gedien het. Sy was ‘n uitstekende, hardwerkende en gerespekteerde akademikus wat onderskeidelik twee doktorsgrade aan die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA) en die Universiteit van Pretoria (UP) verwerf het. Sy was die eerste swart vrou wat bevorder is tot volle professor aan die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch, en sou later vanjaar haar professorale intreerede in Ekklesiologie lewer. Prof Mary-Anne was een van die min kundiges in die kerkreg in die land en globaal, en sy was passievol oor haar vakgebied. Sy was voorwaar ‘n pionier wat die ruimtes wat sy bewoon, verander het, maar nie almal was altyd bewus van die geweldige stryd was sy moes voer binne ‘n hoogs patriargale samelewing en kerklike omgewing nie.
Ook nasionaal en wêreldwyd is sy erken as ‘n leier in ekumeniese kringe en was sedert 2013 die Wêreldraad van Kerke (WRK) se president vir Afrika.
Sy bedien die kerk plaaslik , nasionaal en wêreldwyd in verskillende hoedanighede met die grootste toewyding. Sy was passievol oor die eenheid van die kerk en werk onvermoeid vir die eenheid tussen die VGKSA en die NG Kerk. Sy het baie studente en predikante begelei en gekoester. Haar voorletters MA op Facebook, het mense met die grootste gemak na haar laat verwys as inderdaad ‘n ‘ma”-figuur vir baie. Só het baie na haar tydens haar termyn as Moderator van die Algemene Sinode ligtelik as MOEDERATOR aangespreek. Sy het aan kollegas geleenthede gebied om verder theologies en akadmies te ontwikkel deur uitnodigings na seminare en die skryf van artikels en hoofstukke en boeke.
Sedert prof MA Plaatjies-Van Huffel in die hospitaal opgeneem is, het ons ‘n uitstorting van ondersteuning en gebed vir haar, haar man en die res van die gesin gesien. Vroeër hierdie maand, tydens ‘n ZOOM-vergadering van die Moderamen met die voorsitters van Ringe, het sy met ons vanuit haar hospitaalbed gepraat. Ons was almal baie bly om haar te sien en baie dankbaar om haar stem te hoor. Sy bedank toe almal vir hul ondersteuning en gebede.
Ons vra u om aan te hou bid vir ds Dawid Van Huffel en die res van die gesin. Ons eer die buitengewone en besonderse nalatenskap van so ‘n fenomenale vrou en leier, en vier haar lewe.