Ds. Henry Matthys het op Sondagoggend 17 November 2019 die eerste leraar in die geskiedenis geword wat uit die DAK-publikasie, Die Pesalms vi ôse mense, gepreek het. Dit het gebeur in die Belhar-Oos gemeente van die Verenigende Gereformeerde Kerk en sy boodskap het gekom uit Pesalm 73. Jongmense het, nog voor die erediens begin het, gesê hulle sien uit na ‘n Bybel wat “lekke plat” is – bedoelende natuurlik ‘wat verstaanbaar’ is.
Ds. Matthys sê daar is heelwat belangstelling en mense is opgewonde daaroor. Aan die glimlagte op vele gesigte agterna kan ons sien hoe die gemeente hierdie nuwe weergawe geniet het. Uitdukkings soos “die dywel het mit my kop gesmokkel” was treffers.
Die boekbekendstelling is op Saterdag om halfdrie in die Khoisan Walvismuseum te 5 Hopkinsstraat, Parow (dit loop uit Voortrekkerweg). Die bekende Maranatha Mannekoor gaan optree. Toegang en verversings is gratis. Die Pesalms is teen R200 te koop en is ‘n insamelingsprojek van DAK Netwerk. Skrywer: Dr. Willa Boezak (teoloog) en taalversorger was Willem Fransman Jr. (gerekende kenner van Kaaps). ALMAL IS HARTLIK WELKOM!


