
Die Corona-virus pandemie of “Covid-19” het baie duidelik die Suid-Afrikaanse foutlyne begin ontbloot. Een van die foutlyne is die miljoene mense in Suid-Afrika wat nog steeds nie toegang het tot skoon water nie. Met die Corona-virus pandemie is daar ‘n ernstige beroep op mense gedoen om sekere voorsorgmaatreëls te tref om te voorkom dat mense deur die skadelike en dodelike virus ge-infekteer word. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het met die aanvang van die pandemie verskeie voorsorgmaatreëls voorgestel naamlik sosiale distansiëring, ‘n veiliger manier van hoes, die simptome wat jy moet identifiseer en baie belangrik dat jy jou hande gereeld moet was. Hierin lê reeds die uitdaging vir miljoene Suid-Afrikaners opgesluit omdat baie meningsvormers, gesondheidspersoneel en regeringslui aanneem dat almal toegang tot skoon water het.
Die Nasionale Waterwet van 1998, verwys daarna dat elkeen geregtig is tot toegang tot water met ‘n voldoende hoeveelheid om aan die basiese menslike behoeftes soos drinkwater, water vir kos voorbereiding en persoonlike higiëne aan te voorsien. Die Nasionale Water – en Sanitasie Meesterplan is deur die nasionale regering op 28 November 2019 deur die Minister Lindiwe Sisulu van die Nasionale Departement van Menslike Nedersettings, Water en Sanitasie, geloods. Hierdie plan is ‘n alomvattende samevatting van aksies wat poog om die agterstand van water infrastruktuur, beleggings, waterbron bestuur en kapitale beleggings aan te spreek. Hierdie meesterplan word ook “Operasie Phakisa” genoem wat beteken “maak haas”. Die ongeluk met die plan is dat dit soos vele ander regeringsdokumente weer stof gaan vergader het op die rak weens ons regering se swak rekord van dienslewering aan veral mense in informele nedersettings.
In Suid-Afrika is daar die skokkende en hartseer realiteit dat mense wat in informele nedersettings woon groot uitdagings het met toegang tot water. Die water infrastruktuur is afwesig of dit is eenvoudig net stukkend. In praktiese terme beteken dit dat die waterpype werk nie behoorlik nie, die krane is stukkend of die vloei van water deur die krane is baie stadig agv die swak waterdruk. In Kaapstad het die droogte van 2018 ook verder groot druk geplaas op die beskikbaarheid van water aan informele nedersettings. Vele informele nedersettings sukkel nog steeds om voldoende water te kry en daar heers groot vrees en spanning met die verspreiding van die Corona-virus aangesien water ‘n sleutel voorsorgmaatreël is.

Dit was ons ontdekking in die informele nedersettings die afgelope week waar ons tans bouvallige plakkershutte vervang met nuwe, goeie en gesonde tydelike strukture. So vyf dae voor die begin van die “Staat van Inperking” wat deur die President Ramaphosa aangekondig was het ons pamflette opgestel en dit aan mense begin uitdeel in die informele nedersetting. Ons fokus as “shackbuilders” was tot dusver nog net die bou van nuwe tydelike woonstrukture die afgelope drie jaar. Met die uithandiging van die pamflette het die inwoners ons aandag gefokus op die probleme met die watervoorsiening en die stukkende water infrastruktuur bv krane. Fransie, ‘n inwoner van die plakkerskamp het ons geneem na die krane en die volgende aan ons bekend gemaak,“Die pompie loop baie stadig dan moet mense in rye staan. Soms loop die pompie glad nie”. Met hierdie bewuswording van die erns van die saak het ons as shackbuilders besluit om in te gryp en onmiddellik navrae gedoen oor die pryse vir tenke. Ons het twee donateurs gekry wat twee tenke se geld vir ons geborg het. Die donateurs was Prof Charlyn Dyers en ‘n paartjie, Francois en Alta Greeff wat die skenking moontlik gemaak het vir twee Water Tenke van 2 500 liter elk. Ons kon water kapasiteit van 5 000 liter water daar geplaas het. Dit was ‘n besonderse moeilike tyd vir ons as shackbuilders want ons het gehardloop teen die horlosie. Die uitdaging was nie net om die tenk daar te plaas nie maar ook om dit so te plaas dat dit veilig is en naby ‘n kraan kan wees waar die water kan inloop. Daar was groot opgewondenheid oor die watervoorsiening asof ons kersfeespakkies uitgedeel het. Die blydskap was baie duidelik sigbaar dat mense nie nou hoef rond te skarrel vir water nie. Hierdie watertenk intervensie het gemaak dat die waterprobleme gedeeltelik uitgeskakel kan word in die informele nedersetting. Ons het stadig weggery vanaf die plakkerskamp na die plasing van die watertenk en besef dat terwyl daar mense is wat se inkopie trollies vol is, is daar aan die anderkant groot opgewondenheid oor die beskikbaarheid van water. Ons leef beslis in twee wêrelde in hierdie mooi land van ons.

Met die plaas van die foto’s op die “Shackbuilders faceboekblad” het ons so baie versoeke van regoor die land gekry, vanaf stedelike gebiede, landelike dorpe en informele nedersettings wat aangedui het dat hulle sukkel met watertoevoer. Sommige plekker se water loop vir dae nou al nie. Die waterkrisis is regtig ‘n kommerwekkende situasie aangesien hande-was een van die beste voorsorgmaatreëls is teen die Corona-virus.
Hierdie uitdaging kan die hoof gebied word indien die Minister van Menslike Nedersettings, Water en Sanitasie ‘n groter beroep kan doen op besighede en die burgerlike samelewing om ‘n deurslaggewende rol te kan speel in water voorsiening. Die Shackbuilders het besluit dat – Water Tenk Voorsiening – nou ‘n integrale deel van die shackbuider projek gaan wees. Ons glo in “Operasie Phakisa” en dat “Operasie Phakisa – Maak haas” ‘n werklikheid kan word vir mense in informele nedersetttings. Water is Lewe en dit is ‘n basiese menslike reg.