Om nie met jou baas oor die weg te kom nie, kan tot stres in die werksplek lei en jou werk beïnvloed. Daarom moet jy as werknemer jou uiterse bes probeer om in jou baas se goeie boekies te bly. Soms gebeur dit dat jy en jou baas net nie oor die weg kan kom nie, ten spyte van al jou pogings om hom/haar gelukkig te hou.
Daar is hoofsaaklik twee faktore wat tot konflik tussen ’n werkgewer en werknemer kan lei. Eerstens kan julle persoonlikhede bots, met die gevolg dat julle verskillende sienings oor bepaalde sake mag huldig. Tweedens kan daar konflik tussen jou en jou baas ontstaan as dit vir jou voel asof hy/sy nie aan jou idees gehoor gee nie en jou nie ernstig opneem nie.
Hier volg ’n paar algemene wenke wat jy kan toepas om jou te help om hierdie probleme beter te hanteer:
Wanneer jou baas nie aan jou idees gehoor gee nie:
– Wees kalm en redelik. Onthou dat jou baas nie onder verpligting is om van jou idees te hou nie.
– Wees inskiklik. Probeer om ’n oplossing te vind waarby almal sal baat in plaas daarvan om jou idee op ander af te dwing.
– Luister aandagtig na jou baas se idees en opinies.
– Komplimenteer jou baas indien hy/sy ’n goeie voorstel of idee het.
Wanneer jy en jou baas se persoonlikhede bots:
– Probeer vasstel of jou baas almal sleg behandel en of hy/sy spesifiek net met jou ongeskik is.
– Indien jy die enigste een is wat nie met jou baas oor die weg kom nie, probeer vasstel waarom jy uitgesonder word.
– Probeer vasstel of jy jou baas rede gee om jou sleg te behandel. Is jou werk byvoorbeeld van swak gehalte?
– Maak seker dat jy nie oorreageer nie. Vra ’n kollega of hy/sy ook die slegte behandeling deur jou baas raaksien.
– Sukkel jy ook om met ander mense by die werk oor die weg te kom? Indien wel, is jy dalk die persoon wat moeilik is.