“Laat jou roetine saam met jou kinders se skoolrooster werk” – Juff Adré van Lill

“Laat jou roetine saam met jou kinders se skoolrooster werk” – Juff Adré van Lill gee haar advies aan ouers wat tuis moet werk en nog onderwyser ook moet wees.

“Skep ’n studiegroep op Whatsapp en reël sessies waar julle via Zoom/Skype/Hangouts/ens die werk, waarmee julle gesukkel het, kan bespreek.” – Juff Adré van Lill

Watter wenke het u vir goeie tydsbestuur aan ouers wat moet werk van die huis af en nou ook na die kinders se opvoeding moet omsien?

Skep vir jouself ook ’n roetine soos die kinders. Staan jou gewone tyd op. Trek aan. Drink jou koffie. Maak ontbyt. Gesels ’n bietjie met mekaar voordat julle die dag aanpak. Kry vir jou ’n vertrek wat jou werkspasie is. Jou roetine kan saam met jou kinders se skoolrooster werk. Wanneer die werk klaar aan jou kinders verduidelik is en hulle werk aan die aktiwiteit, kan jy gou jou e-posse lees. LW: Indien jou kinders vir jou hulp vra, moenie hulle afjak nie. Dit is hulle skooltyd en hulp moet verleen word. Wees dus geduldig en verdraagsaam. Wanneer die skooldag verby is, gesels weer ’n bietjie met jou kinders. Vra vir hulle hoe hulle die werk ervaar het. Daarna, eet ietsie saam met hulle voordat hulle daarna gaan ontspan. Dan gaan jy na jou werkspasie en doen jou werk verder.

Watter advies het u aan ouers om hulle kinders in ’n volhoubare roetine te kan kry?

Die kinders moet nogsteeds gewone skooltyd opstaan en gereed maak vir die skooldag (dit is tog steeds ’n skooldag; die lokaal is nou anders). Dit sluit in om klere aan te trek en nie in hulle slaapklere te bly nie. Kinders moet steeds hul ontbyt eet en ’n kosblikkie ontvang om die dag soos ’n gewone skooldag te begin. Hulle moet elke dag hul rooster, soos deur die onderwyser voorsien, volg in ’n spesifieke vertrek in die huis. Dit word dan die klaskamer. D.w.s. hulle assossieer daardie vertrek met werk. Hulle moet soos normaalweg ook ’n pouse kry waartydens hulle nie werk nie, maar buite speel of iets anders doen wat vir hulle ontspannend is. Hulle moet dan ook by daardie tyd hou en nie vra vir nog 5 ekstra minute nie. Ouers moet dus ferm en streng wees, maar ook tegemoetkomend en regverdig. Die ouers moet konsekwent wees en nie eendag streng wees en die volgende dag laat skiet nie.

Tuis is daar soveel afleidings…hoe help ek my kind om te konsentreer?

Sodra die roetine vasgestel is, sal die afleidings beter beheerbaar word. Die kinders moenie toegang tot hulle selfone hê binne die “klaskamer” nie. Indien hulle die klaswerk via hulle selfone moet bekom, moet ouers daarop klem lê dat die selfoon dan nie vir Whatsapp, ens gebruik mag word nie. Soos reeds genoem, moet een vertrek as die klaskamer ingerig word. Dit sal die kinders help om die assossiasie met skool te maak. Indien ’n ander lid van die gesin graag TV/Netflix of YouTube videos wil kyk, moet dit dan in ’n ander vertrek wees. Indien moontlik moet hulle dan oorfone gebruik om nie die kinders se aandag af te trek nie. Almal in die huis moet dieselfde tyd werk. Dit is moeilik vir kinders om te werk as hulle hoor hoe hulle boetie of sussie speel.

In u vakgebied, watter wenke kan u gee om die vak onder die knie te kry?

Met musiek en drama kan ’n mens nog wegkom met die hulp van YouTube videos. Nie alles op die internet is noodwendig die korrekte inligting nie, maar met soveel bronne tot hulle beskikking, sal die leerders beslis tot die korrekte inligting gelei word. Vir diegene sonder internet toegang is dit wel moeiliker. Hulle sal moet staatmaak op die handboek en enige addissionele inligting wat deur die onderwyser voorsien is. (Ek weet daar is persone wat permitte het om werk vir sulke gevalle te neem.) Vir praktiese musiek word leerders aangemoedig om voortdurend aan hulle musiekstukke te werk. Hulle kan via Whatsapp, Zoom, Skype, Hangouts, ens klasse met onderwysers reël. Hulle kan ook op YouTube na die musiekstukke gaan luister.

Hoe belangrik is lees en hoe kan ouers bydra tot volhoubare groei vir die kleintjies?

Lees is uiters belangrik. Dit is die basis van alle onderrig/vakke. Indien ’n kind sukkel met lees, gaan hulle sukkel met enige vak waar lees betrokke is. Kinders moet dus aangemoedig word om elke dag, al is dit net vir 10-15 minute, te lees. Dit hoef nie aaneen te wees nie, aangesien die jonger kinders (die kleintjies) nog nie noodwendig so vlot in lees is nie. Die ouers kan verskillende woorde met hul kindertjies behandel en daarna kan hulle sinsbou met hulle doen.

Watter praktiese studiewenke het u vir matrikulante?

  1. Gaan voortdurend deur jou werk en lees dit noukeurig deur.
  2. Indien jy vashaak, gaan nadie volgende vraag en kom terug na daardie een. Indien jy steeds vashaak, vra jou ouer/broer/suster/voog of hulle vir jou daarmee kan help (nie of hulle dit vir jou sal doen nie). Indien jy steeds vashaak, stuur dan vir jou onderwyser ’n e-pos en vra of hulle vir jou daarmee kan help (byvoorbeeld ’n verduideliking gee).
  3. Skep ’n studiegroep op Whatsapp en reël sessies waar julle via Zoom/Skype/Hangouts/ens die werk, waarmee julle gesukkel het, kan bespreek.
  4. Bly positief.
Posted in

Jongste plasings

Fred Mouton, een van die voorste spotprenttekenaars, sterf.

Fred Mouton het gesterf. Hy was een van die voorste spotprenttekenaars wat groot humor in soms sensitiewe- en kernsake geplaas...

Afrikaans en die San en Khoi tale moet as inheemse tale erken word.

Die minister van hoër onderwys en opleiding het uiteindelik erken dat Afrikaans en die San en Khoi - tale as...