Dak Netwerk gesels met Juffrou Margie Williams oor hoe ouers hierdie groot taak van tuisonderrig suksesvol kan oorsien. Margie Williams was vir 24 jaar ‘n onderwyseres by HS Bernadino Heights, Kraaifontein.

‘Wees ‘n positiewe rolmodel’ – Juffrou Margareth Cloete
Dis swaar genoeg om ‘n nuwe roetine te skep… hoe kan ons dit volhou?
- Probeer met u kind(ers) se onderwyswer(s) skakel en vra vir ‘n kopie van die betrokke assesseringsprogram en syllabus vir kwartaal 2. Dit sal u taak as ouer vergemaklik.
- Hou ‘n vergadering met u kind(ers) waartydens u vir hulle die reëls neerlê.
- Handhaaf dieselfde roetine wat u gewoonlik handhaaf gedurende die week m.b.t. u kind se slaaproetine. (Kinders kan aanvaar dat hulle later kan wakker bly omdat daar nie formele skool is nie.)
- Stel spesifieke tye vas waarop lesse begin en eindig. Ek stel voor dat u ‘n rooster opstel vir elke dag.
- Waar daar twee ouers is, stel ek voor dat u die vakke tussen u verdeel, m.a.w. wie die kind met watter vakke gaan bystaan.
- Moenie al die vakke op een dag prober inpas nie.
- Laat uself lei deur wat u en u kind per dag kan behartig, veral as u en u gade werkend is.
- Probeer om elke oggendgedurende die week op dieselfde tyd te begin, sê tussen 8 en 9 in die oggend.
- Die kleintjie, Grade 1 tot 5 kan tussen elke les miskien ‘n tien minute pousetjie neem. ( onthou ons is almal besig met ‘n GROOT LEERPROSES)
- Pas ‘n “pouse” in na twee ure se werk vir grade 6-12.
Liewe ouers onthou dat GEDULD die GOUE wagwoord is!!!
Tuis is daar soveel dinge wat u kind se konsentrasie verbreek. Die volgende wenke kan u dalk help. veral vir die laer grade:
“Ek onderrig my kleinseun van agt jaar oud en hy het ‘n
gediggie redelik oninteressant gevind en na vele
pogings het ek besluit ons rymklets (“rap”) die gediggie en
dit het soos ‘n bom gewerk!”
MOENIE u periodes te lank maak nie. Onthou dat jong kinders 20 minute vir die langste op een ding kan konsentreer.
As u sien daar is konsentrasie probleme in die middel van die les, doen sommer net gou ‘n paar strek-oefeninkies op ‘n speel-speel manier (daar is nou weer genoeg suurstof in die brein) en gaan dan verder met die les. Probeer helder muurkaarte te maak. Dit hoef nie duur of “fancy” te wees nie. Solank u kind net LEER. Muurkaarte kan uitsekend werk vir vaslegging van KLANKE, WOORDE, MAALTAFELS, PRENTE VAN DIERE , ens.
Bied vir u kind ‘n broodjie aan tussen die lesse as ‘n belonging. (Ons weet dit is enige kind se basiese reg om gevoed te word en dit is geensins waarna daar verwys word nie.) Wat bedoel word, is om u kind belangrik te laat voel, om te wys dat sy/haar samewerking en toegewydheid waardeer word. Ons kan bv, sê: “ Mamma/Pappa kan sien dat jy nou kan doen met iets verfrissend/ lekker. Ek maak gou vir jou iets lekker.” Weer eens hoef dit nie “fancy” kos te wees nie. Aanmaak koeldrank/tee en ‘n grondboontjiebotter-toebroodjie is heeltemal ok.
Leerders in grade 8 tot 12 kan langer konsentreer. Hulle periodes kan tot 50 minute lank wees. Weereens is dit raadsaam (omdat u tuis onderrig) om nie te veel vakke op ‘n dag te probeer inpas nie. Ek sou voorstel dat leerders 8 – 12 , TWEE vakke voor twaalfuur inpas, dan ‘n pouse en daarna weer TWEE vakke.
PRAAT U KIND GEREELD MOED IN. WEEREENS: GEDULD! GEDULD! GEDULD!
Wat is juffrou se advies rondom die vakgebied Afrikaans Huistaal & Addisionele taal?
LITERATUUR: (Voorgeskrewe Werke)
- Dit is baie belangrik dat leerders hul voorgeskrewe ROMAN, DRAMA en KORTVERHALE MOET LEES!!
- Ken jou KARAKTERS in die voorgeskrewe stuk!
- Wie is die hoofkarakters!
- Wie kan ons beskryf as randkarakters.
- Leerders moet weet wie in die verhaal skakel met wie.
- Wie het wat aan wie gedoen. (Dit maak dit makliker om te onthou.)
- Wat is die verloop (die Plot) van die betrokke roman, drama, kortverhaal.
- Wat is die hooftema in die verhaal.
- Watter ander temas kom voor in die roman of kortverhaal?
In die meeste voorgeskrewe stukke( romans, dramas en kortverhale) is daar oefeninge en woordelyste agter in die boek. Leerders kan hierdie oefeninge gebruik as ‘n maatstaf om hulsef te vergewis van:
- temas
- hoe vrae gevra kan word in die eksamen.
- hoe om die beantwoording van hierdie vrae te bendader.
- insig in die betrokke voorgeskrewe werk.
- WENK: Soos jy die betrokke roman, kortverhhaal of drama lees, vertel dit oor aan iemand. Dit is ‘n goeie vaslegginsmetode.
LAAI Lees Met Begrip PDF
LAAI WENKE VIR MATRIKULANTE PDF
KREATIEWE SKRYFWERK:
Sinskonstruksie is hier van die uiterste belang, met ander woorde: Bevat my sin ‘n Onderwerp, ‘n werkwoord en ‘n voorwerp?
VOORBEELD: Die mense bly in hul huise.
Dan is:
Die mense – Voorwerp
bly – werkwoord
huise – voorwerp
(Ons kan later in ‘n les na woordsoorte kyk waarmee die oorgrote meerderheid van leerders sukkel.)
Spelling is van uiterste belang en leerders moet spelling met OEFENING onder die knie kry.
Leestekens moet reg toegepas word. Te veel leerders, in sommige gevalle tot in Graad 12, laat na om ‘n PUNT AAN DIE EINDE VAN ‘n SIN TE SIT.
‘n Opstel moet ‘n sekere struktuur hê:
- INLEIDING
- LIGGAAM VERDEEL IN PARAGRAWE
- SLOT
Dit is die vraestel wat vir die meeste punte (100 punte) tel in die EKSAMEN!
Dit is in hierdie Vraestel (Vraestel Drie) waar leerders, veral Graad 12e, hul punte kan opstoot.
Wat baie belangrik is om te besef, is dat LEES en nogmaals LEES ‘n mens se algemene kennis verbreed en ‘n mens se woordeskat verryk.
Hoe belangrik is lees vir die kognitiewe ontwikkeling van kinders?
- Liewe Ouers, dit is so baie belangrik dat ons ‘n liefde vir lees van ‘n vroeë ouderdom by ons kinders kweek.
- Daar is talle maniere hoe ons dit kan doen.
- Hier volg ‘n paar voorstelle:
- Lees ‘n storie vir u kinders voor slapenstyd. Dit is natuurlik ‘n gebruik in baie huishoudings.
- Moedig hulle aan om ook ‘n beurt te neem om ‘n storie te lees en maak ‘n speletjie daarvan. Sê vir u kind dat dit nou sy/haar beurt is vanaand om ‘n slaapstorie vir die gesin te lees. Almal moet natuurlik getrou en ernstig saamspeel.
- Onthou: waarna ons as ouers en opvoeders eintlik mik, is om kinders van kleins af te leer om met begrip te kan lees. Hulle moet kan verstaan wat hulle lees.
- Moedig hulle aan om die opkskrifte van koerante te lees.
- Wanneer u kind by u in die motor is, maak ‘n speletjie daarvan om opheffingsborde langs die pad te lees, instede daarvan om na die radio te luister.
- Lees kweek ‘n nuuskierigheid by kinders om meer te kan weet. Dit prikkel hulle verbeelding en laat hulle toe om na ‘n ander wêreld weggevoer te word.
- Stel u kind blood aan boeke met prentjies en tydskrifte.
- Liede vir lees word deur ons as ouers en opvoeders gekweek en sodoende verryk ons ons kinders se lewens.
Watter aflaaibare oefeninge het uffrou vir ouers met kleintjies?
Ja, hier is ‘n lekker “lees met begrip” oefening vir kinders in Graad 3 -4. Dis help kinders om die kovid-19 pandemie bietjie beter te verstaan, lees met begrip verbeter en ook lekker praktiese takies om kinders kreatief besig te hou.