“Ons kinders is emosionele wesens…” – Juffrou Natasha Norris-Africa

Juffrou Natasha Norris-Africa, opvoeder by Worcester Sekondêr gesels met Dak-Netwerk en deel haar geheime vir ‘n produktiewe grendeltydperk saam met haar familie.

“Ons kinders is emosionele wesens, soms baie manipulerend ook! En in hierdie tydperk het hulle ons as ouers baie meer nodig.” – Juffrou Natasha Norris-Africa

Watter praktiese studiewenke het jy vir matrikulante?

Belangrikste in hierdie tydperk is dat jy as matriekleerder nie fokus moet verloor nie, al is dit hoé moeilik. Werk nog steeds op ‘n daaglikse basis aan jou skoolwerk soos wat jy sou gedoen het as dinge normaal was. Onthou, jy is nie alleen nie. Dinge kan moeilik raak, dit hang van jou as persoon af hoe jy hierdie tydperk gaan hanteer. Ons kan jou die beste wenke gee maar gaan jy dit prakties uitvoer? Dis waar dissipline en volhoubaarheid inkom. Stel jouself ‘n daaglikse rooster op wat jy gedoen wil hê en hou daar by, dit sal jou roetine wees. As jou werk gaan ophoop gaan jy mismoedig raak en wil tou opgooi. Om positief te bly is moeilik maar jy kan dit doen. Gesels met jou klasmaats en probeer mekaar motiveer. Kry ook vars lug, jy hoef nie aan ‘n oefenprogram te werk nie, kry net daagliks vars lug. Oral word programme aangebied waar werk aan jou verduidelik word, besluit watter een jy wil gebruik en hou daarby. Te veel inligting van verskillende platforms kan soms oorweldigend wees. Almal is besig met hierdie program, daardie program, maar doen wat vir jou werk. Onthou ons is in ‘n grendeltydperk, nie kompetisie oor wie die beste TIKTOK video of beste brood kan bak nie. Jy is nie verplig om in enige kompetisie te wees nie, ONTHOU, jou skoolwerk is jou prioriteit. Al lyk dinge vir ons almal onseker, dinge sal vorentoe beter gaan. Moenie moed opgee nie. Hou vas aan doelwitte wat jy vir jouself stel.

Hoe kan ouers en kinders hulle tyd tuis goed bestuur?

Ek en my man het net na die ‘lockdown’ ingestel is, met ons twee seuns gesit en gesels oor wat dit alles behels, vrese en onsekerhede asook verwagtinge. Ons is nou al meer as ‘n maand in die grendeltydperk en dae is nie soos mens dit beplan nie. Dus hoekom jy eerder die dag moet beplan soos dit kom. Roetines kan nog steeds behou word, al is dit nie elke dag op dieselde tyd nie. Alles het verander, huishoudings ook. Maak ‘n plekkie reg waar die kinders hul skoolwerk kan doen. Dit is dus hul werk om te sorg dat dit netjies bly as hul klaar skoolwerk gedoen het. Almal in die huis moet saam werk, spanwerk. Hul moet ook weet dat mama besig is met mama se werk, hul ietsie moet doen om hulself besig te hou. Hierdie is ‘n moeilike tydperk vir ons almal. Dis moeilik om te hou by wat gedoen moet word en maklik om eerder alles te los. Onthou dat nie een van ons alleen deur dit gaan nie. Die vraag is, gaan jy dat negatiwiteit jou onder kry of gaan jy hard probeer om positief te bly deur alles…KEUSE IS JOUNE. Ons het altyd een…

Ons almal sukkel maar met roetines…wat is u advies?

As mama en opvoeder van beroep is roetine by die skool asook huis, tydens skooltyd vir my baie belangrik. Roetine is nodig. Dit skep meestal ‘n mate van standvastigheid en dissipline. Roetines skep orde. Dis ook ‘n veilige net vir kinders as hul weet wat van hul verwag word. Dis totaal te verstane dat dinge in die grendeltydperk bietjie ‘haywire’ gegaan het. Belangrikste is dat u saam met u kind (ers) sit en ‘n program uitwerk. Besluit dat daar in die oggend en middag aan skoolwerk bestee moet word, al is dit ten minste een uur, afhangende van die graad (hoe hoër graad, hoe langer die tyd). Sou u kind nog op laerskool is, moet u probeer om met hom/haar te sit met die skoolwerk. Dis ‘n baie groot uitdaging veral as ouers van die huis af werk. Dis normaal as ons as ouers frustreerd voel met die hele situasie, vermy om dit op die kinders uit haal, al gaan dit hoe moeilik, veral as hulle konstant jou aandag soek. Verduidelik aan hulle hoekom dinge is soos dit is en hoekom sekere dinge gedoen moet word en ander dinge nie gedoen kan word nie.

Hoe kan ons ons kinders help om hierdie nuwe omstadighede te hanteer?

Probeer om van die ‘distractions’ te verminder. Elke huishouding verskil. Wat vir my werk, sal dalk nie vir volgende persoon werk nie. Belangrikste is dat u in beheer moet wees van wat in u huis aangaan. Probeer dat u kinders, veral as hul emosioneel vatbaar is, minder hoor en sien van Kovid-19. My seun is 10 jaar oud, ek het nie besef hoe hard nuus oor die virus hom getref het nie. Hy het elke keer gesê sy maag voel nie lekker nie, hy is bang. Ons het hom moed in gepraat en ek het voorgestel dat hy elke keer ‘n nota skryf oor sy gevoel, totdat ek een gelees het. Ons kinders kry swaar, soms besef ons dit nie. Gee hul lekker takies om te doen, wat hul sal geniet. Vra hul wat hul wil doen. U sal verbaas wees watter oulike goedjies hul kan doen as hul net gestimuleer word. Verminder hul tyd voor die televisie/selfoon/tablet. As mama in kombuis besig is met bak/kos maak, laat boetie/sussie
help, leer hul klein goedjies aan soos eier bak, wat dan gepaard gaan met veiligheid in kombuis, bv, versigtigheid met stoof. Al mors hul die vloer vol (en dit gebeur soms tot frustrasie want jy het nou net vloer gewas), dit kan weer SAAM skoongemaak word. Ons kinders is emosionele wesens, soms baie manipulerend ook! En in hierdie tydperk het hulle ons as ouers baie meer nodig.

Watter advies het u vir die spesifieke leerareas waarby u betrokke is?

Huidiglik is my leerareas AFRIKAANS (Gr 8), DRAMA (Gr 9) en GESKIEDENIS (gr 9). Baie skole is tans besig om werke op welke maniere ook, aan leerders te stuur. Sommige plaas werk op sosiale media, daar is aanlyn klasse, whatsapp groepe, ek is seker u is bewus van alles. Belangrik is dat u saam met u kind probeer om, soos werk ontvang word, dit af te handel. Stel u eie rooster op om by u huishouding te pas. Dit is weereens waar die tydgleuwe inkom (oggend en middag). Verhoed die ‘kom ons doen dit later’. Slaappatrone is ook nou heel omvergegooi. Gun hul dit as hul laat slaap, skuif dus net hul skoolwerk aan maar handel elke dag se werk af. Doen bv, wiskunde in oggend, middae kan tale/lees gedoen word.

Hoe belangrik is lees en hoe kan ouers bydrae tot die volhoubare groei vir die kleintjies?

Ons almal weet wat ‘n belangrike deel LEES van ons bestaan uitmaak. Nie net stimuleer dit die brein nie, dit help ook om woordeskat uit te brei. Ek sit nou nog met ‘n woordeboek, sou ek nie die betekenis van ‘n woord verstaan nie. Meeste skole vra dat kinders elke dag, ten minste 20 minute lees. Nou is die vraag, wie lees wat? ‘n Kind van 8, 9, 10 jaar oud gaan nie vir 20minute aaneen kan lees nie. Breek die 20 minute op in ‘Jy lees, Ek lees’. Daar is oulike stories wat mama of papa kan lees (dit help ook met luisteroefening), toets dan hul begrip agterna (Die WAT, WAAR, WANNEER, WIE en WAAROM). As ouers moet ons nou die rol as die opvoeder aaneem. As jy dit geniet om te lees, sal hul dit geniet om te luister. Draai dan die rolle om, laat hul vir jou lees. Laat hul ook toe om hul eie stories op te maak en te vertel!

Posted in

Jongste plasings

Fred Mouton, een van die voorste spotprenttekenaars, sterf.

Fred Mouton het gesterf. Hy was een van die voorste spotprenttekenaars wat groot humor in soms sensitiewe- en kernsake geplaas...

Afrikaans en die San en Khoi tale moet as inheemse tale erken word.

Die minister van hoër onderwys en opleiding het uiteindelik erken dat Afrikaans en die San en Khoi - tale as...