’n Wanopvatting bestaan dat bruin mense niks te sê het oor Afrikaans nie.
Die boek Ons kom van vêr bewys dit verkeerd, het dr. Michael le Cordeur van die Universiteit Stellenbosch Vrydag by die bekendstelling daarvan gesê.
“Ons (bruin mense) hét iets te sê, ons wil iets sê. Ons soek net die regte platform en ons wil nie ingeboks wees nie. Vandag is Afrikaans ’n taal van versoening.”
Die storie van Afrikaans het voorheen meestal op die taal se wit geskiedenis gefokus terwyl die taal se bruin en swart geskiedenis misken is.
Met Ons kom van vêr word die verhaal meer volledig vertel as wat tot dusver die geval was, aldus die boek se redakteurs – Le Cordeur en prof. Wannie Carstens van die Noordwes-Universiteit.
Altesame 36 skrywers, akademici en gemeenskapsleiers het bydraes gelewer.
Die projek is deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Het Jan Marais Nationale Fonds, die L.W. Hiemstra-trust, die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans en die ATKV ondersteun.
Le Cordeur het gesê die idee vir die boek is deur wyle prof. Adam Small as ’n “soort opdrag” aan hom gegee.
Le Cordeur en Carstens het einde verlede jaar oor die moontlikheid gepraat om ’n gedenkboek saam te stel wat aan Small opgedra sal word.
Le Cordeur het Vrydag voor ’n groot gehoor in die Kunstekaap-teater in Kaapstad ’n eksemplaar aan Small se weduwee, dr. Rosalie Small, oorhandig.
“Dis ’n groot eer, maar ook hartseer. Adam sou oor vyf dae (eerskomende Woensdag) 80 wees,” het sy gesê. Adam Small is op 25 Junie dood.
Sy vra in haar hoofstuk in die boek “Wie is Adam Small?” en maak aspekte omtrent die digter-dramaturg bekend waarvan niemand ooit geweet het nie.
Die akademikus dr. Franklin Sonn het gesê: “Dis nou tyd om eerlik te wees oor ons wording. Wat sê ons vir ons kinders as hulle steeds in aanhalingstekens (moet) staan; die so-called coloureds? Die boek moet ’n wegwyser wees. Ons moet die toekoms se pas aangee. Ons moet prontuit vir mekaar sê: ‘Dié is ons.’
“As ons nie praat nie, ontdoen ons Suid-Afrika van sy werklike toekoms. Selfbewustheid, huiwerigheid hoort in die verlede. Selfkragtigheid is die toekoms.”
Prof. Wessel Pienaar, voorsitter van die Akademie, het gesê die boek “kan ’n besonders kosbare dokument wees. Dit kon nie op ’n beter tyd gekom het nie.”
Lees die volle storie hier : https://www.netwerk24.com/Nuus/Algemeen/ons-kom-van-ver-se-bruin-mense-oor-taal-20161217