Opsies Vir Matrikulante
Die aankondiging van die matriekuitslae elke jaar veroorsaak gewoonlik groot onumentele stres. Die warboel van emosies gaan oor “het ek dit gemaak of was ek onsuksesvol in my finale jaar van skool”. Dit laat die stresvlakke gewoonlik want die uitslae gaan gepaard met groter publieke belangstelling. Die oom en antie in die straat wag ook op jou uitslae. Met die bekendstelling van die uitslae is daar gewoonlik ‘n baie groot fokus op die kandidate wat sukses behaal het. En dit gaan gepaard met groot gejubel en opgewondenheid oor die slaag van die studente. Op nasionale vlak hierdie jaar het die slaagsyfer deur die 80persent merk gebreek en die Nasionale Minister van Onderwys het selfs daarna verwys dat sy nou kan “bedank” met hierdie hoë slaagsyfer. Haar opgewondenheid was so groot dat sy selfs van die syfers verkeerd gelees het.
Maar met al die opgewondenheid oor die matriekuitslae is daar diegene wat nie die vereistes van die Nasionale Senior Sertifikaat bereik het nie. Vir hulle is dit traumaties, pynlik en ‘n groot teleurstelling. Van hulle voel hulle hele lewe het ineengestort en dat die toekoms donker lyk. Gewoonlik is die opgewondenheid so groot oor die sukses van die kandidate dat daar nie genoeg ondersteuning is vir studente wat nie suksesvol was nie. Aan hierdie studente wil ons graag die nodige ondersteuning en hulp bied.
Die belangrikste boodskap aan hierdie matrikulante van 2019 is dat hulle nog steeds belangrik is. Hulle moet geensins dink dat hulle nie ‘n bydrae tot die samelewing kan maak nie of dat hulle nie hul lewensideale kan bereik nie. Daarom moet hulle besef dat die uitkomste wat hulle nie bereik het nie, is nie die einde van die pad nie. Met hierdie boodskap wil ons graag praktiese opsies vir hulle gee om ten spyte van die teleurstelling hulle help en ondersteun om steeds hulle lewensideaal te kan bereik.
Daar is drie onmiddellike opsies wat hulle kan oorweeg wat baie vernalaat word.
- Eerstens is om die opsie uit te oefen om hul vraestel te laat oormerk. Dit is ‘n goeie opsie wat koste impliseer maar wat wel uitgeoefen kan word.
- Tweedens is om die skool te nader vir aanvullende eksamen en
- die laaste opsie is om die matriekjaar oor te doen. Hierdie opsies word jaarliks aan studente gegee en dit verkry gewoonlik positiewe resultate.
Vir die studente wat die arbeidsmark wil betree kan die volgende opsies gevolg word. Hierdie opsies is nie net vir die matrikulante wat onsuksesvol was nie maar ook vir hulle wat nie verder gaan studeer nie. Dit is egter belangrik om te verstaan dat dit baie moeilik is om die arbedsmark te betree en daarom kan hierdie praktiese opsies gebruik word.
- Hierdie is nou ‘n tyd vir kritiese self-evaluaring. Elke persoon moet nou weer herbesin oor hul lewensplan of persoonlike missie en visie. Daar is nie ‘n krisis nie. Die beroepsvoorligter, Donald Super het ‘n teorie ontwikkel wat te sê dat ‘n persoon ten minste ‘n paar keer van rigting in sy lewensverloop kan verander. Hierdie verandering volgens Donald Super is ‘n normale beroepsontwikkelings proses.
- Die hoë syfer van werkloosheid maak dit moeilik vir toegang tot die arbeidsmark omdat werk skaars is en ook om toegang te kry al hoe meer kompeterend raak. Daarom moet naskoolse matrikulante hulle self bemagtig met nuwe praktiese vaardighede en kortkursusse.

Daar is drie vrae wat die arbeidsmark vir nuwe toetreders vra en dit is belangrik om hierdie vrae te kan beantwoord. Selfs die werklose mense wat langs die pad staan word hierdie vrae gevra.
- Eerste vraag is: Wat kan jy doen? – Kundigheid en vaardigheid
- Tweede vraag is: Wat kan jy goed doen? Uitnemendheid of Hoe goed is jy?
- Derde vraag is: Wat is jou prys vir dit wat jy kan doen? Watter waarde plaas jy op jou vaardigheid?
- Jou Kurrikulum Vitae (CV) is jou bemarkingsvoertuig en daarom kan dit nie dieselfde wees as 2019 sin nie. Jou CV moet uitgebrei word en daar moet elke keer nuwe bewys wees van nuwe kursusse, nuwe vaardighede en kennis wat jy opgedoen het. Iemand het my onlangs gevra vir werk en kon nie ‘n CV verskaf nie. ‘n CV raak al hoe meer belangrik en die nuwe werkgewer soek vir vaardighede, kundigheid en werkservaring.
- Woon kort kursusse by waar jy praktiese vaardighede kan aanleer. Die werknemer sal jou beter kan plaas indien jy ‘n sertifikaat kan toon as bewys van wat jy kan doen. Daar is vele kort kursusse wat aangebied word solank jy ‘n basiese kennis en vaardigheid kan toon. Die vierdie nywerheids rewolusie vereis dat jy rekenaarvaardig moet wees en bied vele opsies wat deur kort kursusse aangevul kan word.
- Kry jou bestuurderslisiensie.
- Doen vrywillige werk by organisasies om aan te dui dat jy werkservaring het.
- Doen ‘n entrepreneurskap kort kursus en ook hoe om geld te kan bestuur. Die arbeidsmark soek mense met ondernemingsgees en dit kan deur entrepreneurskapskurssuse verkry word. Finansiële bestuur is broodnodig by enige instansie.
- Laastens bou ’n netwerk van mense wat vir jou toegang kan gee tot ‘n werk. Nader familie en vriende, die mense in die straat en kennisse wat by besighede werk.
- Die grootste advies is om inisiatief te neem en aksie te neem.
Hierdie bostaande aksies kan gevolg word nie net vir matrikulante wat onsuksesvol was nie maar ook vir diegene wat die wêreld van werk gaan betree. Onthou die toetreding tot die arbeidsmark is uitdagend weens die huidige ekonomiese klimaat, maar dit is moontlik om jou lewensdroom te kan bereik.
Quinton Adams, Opvoedkundige Sielkundige, +27 (0) 82 698 5103, qadamsster@gmail.com