“Dis tyd om die kop op te lig, die skouers reguit te maak en aan te gaan met hul opgelegde take.”
– Dit was die kern boodskap van die direkteure van die DAK Netwerk in hul onlangse Zoom-vergadering van 10 Augustus.

Die vergadering was hul eerste nadat die skielike ongesteldheid van hul direksie-voorsitter, Dr Danny Titus, drie weke gelede, hulle met ‘n verstandsstilstand getref het. Daarom is besluit om al die laag hangende vrugte (‘n Danny Titus-uitdrukking) nou te probeer pluk. Dit sou behels dat daar nou, sonder aarseling besluit is om met projekte, wat in die onmiddellike tydsgewig afgehandel kan word, deur te druk.
Van die opwindende projekte wat voorlê en spoedig afgehandel behoort te word, is verdere en aggressiewe bemarking van Die Pesalms vi’ ôse mense (‘n DAK Netwerk-publikasie van dr WA Boezak), ook die druk ‘n digbundel van 18 digters van Vredendal en ‘n konferensie oor armoedeverligting. DAK Netwerk se primêre taak bly steeds om die oorgrote meerderheid Afrikaanse taalsprekers rondom die taal te verenig.
Alhoewel dr Titus se toestand steeds onveranderd is, het DAK Netwerk kontak met sy gesin en familie, en word besluite, na buite, in oorleg met die familie geneem. Direksie-lede se volgehoue bede is met dr Titus en sy familie.
Intussen, as tydelike maatreël, is Danie van Wyk, as ‘n interim-voorsitter aangewys, om saam met ‘n dagbestuur, leiding te gee. Van Wyk is ‘n bekende in onderwyskringe en is van die begin af by die DAK Netwerk betrokke.
‘n Ander taak van die interim voorsitter is om die reelings te verfyn vir die derde Algemene Jaarvergadering wat einde September 2020 gehou moet word.
Vriende van DAK Netwerk en belangstellende sal dien ooreenkomstig ingelig word.
Sodra enige nuus omtrent dr Titus se gesondheidstoestand rugbaar word, sal DAK Netwerk, in samewerking met sy familie, inligting deurgee.