Ons gesels met Juffrou Margareth Cloete, ‘n onderwyseres by Hoërskool S.A. van Wyk in Springbok, Noordkaap.

‘Wees ‘n positiewe rolmodel’ – Juffrou Margareth Cloete
Wat is jou raad aan ouers gedurende hierdie tyd van inperking weens die korona-pandemie?
Ek dink hierdie is die tyd waar daar meer gefokus moet word op gesonde familie verhoudings. Praat met u kind – leer ken hulle en deel met hulle. Werk aan u kind se karakter en die verhouding tussen ouer en kind. Dis belangrik om te fokus op die kind se welstand – fisiologies. Ouers moet met kinders praat oor Covid-19. Vra u kinders om Covid-19 te teken en daaroor te praat – wat dit vir hulle beteken. Laat hulle toe om uiting te gee aan hulle emosies. Dit sal ouers geleentheid gee om te sien op watter emosionele vlak hulle kinders is.
Die vraag is: Hoeveel van ons ouers het al regtig met ons kinders gepraat oor Covid-19 en die gevolge daarvan?
Covid-19 het groot onsekerheid en ontwrigting veroorsaak. Selfs die onderwysowerhede weet nie wat om te doen nie. Daar sal ‘n ander benadering gevolg moet word om te kyk na die geestesgesondheid van ouers, opvoeders en kinders. Ons was nog nie in so ‘n situasie nie en kan nie alles verander en beheer nie. Ouers moet gedurig met kinders kommunikeer –
- Hoef nie noodwendig oor skoolwerk te wees nie
- Hou die boodskap dat dinge abnormal is regoor die wêreld, maar dat dinge gaan verander
- Help om hulle angs en spanning af te bring
- Ondersteun hulle, moenie kritiseer nie
- Motiveer hulle, moenie blameer nie
- Luister na hulle, moenie kla nie
- Aanvaar hulle
- Vertrou hulle, moenie hul dreig nie
- Respekteer hulle, moenie hul straf nie
- Onderhandel oor verskille en moenie hul omkoop/ beloon om in beheer te wees nie
- Wees ‘n positiewe rolmodel
Hoe kan ouers hul kinders in ‘n goeie roetine kry en daarmee volhou?
Met soveel afleidings… Hoe help ek my kind konsentreer?
Konsentrasie is ‘n vaardigheid wat aangeleer moet word. Kyk na omgewingsfaktore, struktuur/ roetine in huis, want kinders kan nie studeer as daar heeldag musiek geluister word, mense wat kinders steur, ens. Die kind moet in die regte gemoedstoestand wees en nie gedwing word om te studeer nie. Beplan saam met jou kind watter vak hulle gaan studeer en op watter onderwerp hulle gaan fokus. Sorg dat die kind by ‘n plek studeer waar hul aandag nie afgetrek kan word nie. Belangrik dat die kind elke dag op dieselfde plek studeer. Moenie jou kind met ander vergelyk nie.
Moenie frustreerd raak met jou kind. Belangrik dat jou kind instruksies verstaan en weet wat om te doen. As die kind gedrag openbaar wat nie na wense is nie, konsentreer op die gedrag en nie op die kind nie. Prys en motiveer u kind soveel as moontlik. Laat die kind prentjies teken, inkleur en rympies op sê (aktiwiteite doen) wat hul sal help om beter te onthou. Moenie druk op u kind plaas nie, want dit vererger net die probleem. Moenie die kind gewoont maak aan belonings nie, hulle moet uit hul eie studeer. Skep ‘n lekker atmosfeer vir die kinders om te studeer. Help jou kind met werk maar moet dit nie doen nie, kinders moet self leer. Plak notas in kamer of in kas om sodoende te help om werk beter te onthou. Verwyder alle tydverkwisters (selfone, tv, musiek,ens.)
Wat is u vakgebied en watter advies het u rakende daardie vak?
LO is my vakgebied en dit is maklik om die vak onder die knie te kry, want die meeste onderwerpe word bespreek en prakties in klas gedoen bv. stres – leerders moet faktore identifiseer wat bydra tot hul eie stres. As hul stresfaktore geidentifiseer het, moet hulle tegnieke/ metodes noem hoe hul van die stres kan ontslae raak en so leer ander leerders hoe om op verskillende maniere van stres ontslae te raak. Byvoorbeeld kinders wat anstig raak hoef nie dokter toe te gaan nie, hulle kan net in ‘n bruinkardoes asem te haal of hul kop laat sak tussen hul bene. Kommunikasie bv rollespel.mens kommunikeer op verskillende wyse met verskillende mense bv die skoolhoof word aangespreek as “meneer”, “asseblief en dankie” met jou ouers is daar soms ‘n ander wyse van kommunikasie , soms sonder respek. Deur rolspel uit tebeeld leer kinders op verskillende maniere en die foute wat hulle dalk maak. Die verskillende vakke het verskillende wenke om te leer, ek probeer ‘n meer praktiese benadering sodat daar altyd deelname in klaskamer is.
LAAI Leerderroetinekaart PDF
Hoe belangrik is lees en hoe kan ouers bydra tot volhoubare groei vir kleintjies?
As jy suksesvol op skool wil wees, moet jy kan lees. Lees is vir baie kinders ‘n groot probleem omdat hulle nie verstaan wat hulle lees nie. Liefde vir lees moet reeds op ‘n jong ouderdom by kinders aangekweek word. Lees help jou om beter te kommunikeer,help jou die wêreld/ mense beter verstaan, help jou om probleme op te los, beter te leer. Ouers moet van kleins af vir kinders lees en probeer elke dag ‘n paar minute daaraan afstaan, want dit is iets waaraan kinders gou gewoont sal raak. Dit kan bv saans voor slapenstyd wees, dis ook ‘n manier om band tussen ouer en kind te versterk. Begin deur stories voor te lees en later kan dit oorgaan na saam lees en dan waar kind self lees. ‘n Ouer wat gereeld vir ‘n kind lees, help met die kind se kreatiwiteit, verbeter met kind se woordeskat en taalvaardigheid. ‘n Kind wat van kleins af lees, vaar ook beter op skool. Ouers moet kinders leer dat lees ‘n roetine moet wees, soos hare kam / tandeborsel. Dis belangrik dat ouers moet sorg dat kinders boeke het, waarin hulle net na prentjies kan kyk, deur boek blaai of self skryf. Ouers moet voorbeeld wees van boek lees, terwyl hulle dit doen, moet kinders dit ook doen. Wees ‘n goeie rolmodel.
Watter praktiese studiewenke het u vir matriekulante?
Voor jy begin studeer, is dit belangrik om die verskil te ken tussen ‘n studievaardigheid, studiestyl en studiestrategie. Studievaardigheid – leervermoëns om te kan leer en studeer (lees, skryf, konsentreer, tydbestuur, ens). Studiestyl manier van studeer eie aan jou. Studestrategie – Planne en tegnieke om jou studiedoelwitte oor ‘n tydperk te bereik.
Wenke:
- Baie belangrik om ‘n studierooster te hê.
- As jy nie weet waar om te begin studeer nie, begin by die begin.
- Breek jou werk in klein hanteerbare dele op.
- Begin vroeg studeer lank voor eksamens.
- Wees georganiseerd – maak seker dat jy al jou leermateriaal by jou het en nie
onodig moet opstaan nie. - Bly ten alle tye positiewe en dink aan jou doelwitte sodat jy jou droomloopbaan
kan volg. - Gee jouself gereeld ‘n breek, moenie langer as ‘n uur studeer nie.
- Gereelde hersiening is baie belangrik sodat jy jou werk met gemak kan herroep.
- Probeer om die werk wat jy ken aan iemand anders verduidelik – manier om te
kontroleer of jy die werk onder die knie het. - Vermy ten alle koste tydverkwisters (selfoon, tv, ens.)
- Moenie uitstel nie, dis ‘n groot tydvraat.
- Gebruik jou beste studietye om vir jou moeilikste vakke te studeer.
- Kry genoeg slaap, eet gesond en drink genoeg water.
- Om vir ‘n eksamen voor te berei is soos om oefening te doen – jy moet liggaamlik
en geestelik goed voorbereid wees.
Ouers voel ook oorweldig met die taak om hul kinders te help en self ook van die huis af te werk. Hoe kan hulle alles beter balanseer?
- Beplan, beplan, beplan. Stel ‘n huiswerk plan op; maak ‘n lys wat gedoen moet word en hou daarby.
- Lê self dissipline aan die dag.
- Identifiseer tydsvrate en vermy afleidings vir ‘n sekere aantal ure in die dag.
- Terwyl ouers besig is met werk, moet kinders besig wees met skoolwerk (bv lees of kyk na opvoedkundige programme, aanlyn- opvoeding).
- Oop kommunikasie. Vra vir hulp. Betrek kinders by huistakies (skottelgoed, ens.)
- Die belangrikste is om ‘n gevestigde roetine in huis te hê. Dis die perfekte tyd om in ‘n roetine te kom en sodoende tyd beter te bestuur.
- Sorg dat daar ‘n balans is tussen saam werk – saam huis skoonmaak, saam kantoorwerk en skoolwerk en saam ontspan. Dit verbeter die gesinsband.
Het u enige aflaabare materiaal vir ons ouers en leerders?
Ja, ek stuur graag die ATKV-Kopskuif blad wat ouers kan aflaai en gebruik.
Niks motiveer jou so goed soos ‘n duidelike doel nie. Sonder ‘n duidelike doel het jy geen basis waarop jy jou besluite kan baseer nie, jou tyd kan toeken en jou hulpbronne kan gebruik nie.
Jy sal geneig wees om keuses te maak wat gebaseer is op omstandighede, druk en jou gemoedstoestand op daardie stadium. Mense wat nie hul doel ken nie probeer te veel goed doen en
dit veroorsaak stres, moegheid en konflik. Sonder ‘n duidelike doel is jou skoolloopbaan sonder betekenis, aktiwiteite sonder rigting en doellose gebeurtenisse. Sonder ‘n doel is jou skoolloopbaan onbeduidend en betekenloos. Die grootste tragedie is nie dood nie, maar ‘n lewe sonder betekenis. Jer.29:11- Ek weet wat ek vir jullebeplan het, sê die Here. Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet he. Die vraag is: Wat is jou doel waarom jy by ‘n skool is? Sonder ‘n duidelike doel het jy geen rigting of fokus.
STERKTE EN HOU GOEIE MOED LEERLINGE. (Effesiërs : 5:17)