My leermeesters het my geleer om altyd op twee aspekte in kleinsakebestuur te konsentreer: hoe om meer te verkoop (oftewel hoe om die omset te verhoog) en hoe om koste te bespaar.
Vandag wil ek kleinsake-ondernemers wenke gee oor hoe om slimmer te werk (nie harder nie) om hul ondernemings te laat groei.
Leer delegeer
’n Vriend in die Vrystaat het my geleer dat geen sakeman ryk sal word as hy alles self doen nie. Namate organisasies groei, raak die pligte van die bestuur ook meer kompleks. Die eienaar-bestuurder sal moet besef dat hy nie meer alles self sal kan doen nie en sal beslis moet leer hoe om minder belangrike werk na ondergeskiktes af te wentel.
Delegering is die sleutel tot doeltreffendheid en moet tot voordeel van almal aangewend word. Die eienaar sal moet leer hoe om te delegeer sodat hy op die onderneming se groter en meer komplekse kwessies kan fokus.
Maak jou kliënte jou “verkoopsagente”
Kliënteverwysings is een van die beste en doeltreffendste maniere om toegang tot nuwe kliënte en dus inkomstebronne te kry. Menige sakeonderneming het al ’n “verwys-’n-vriend-veldtog” gebruik waardeur ’n kliënt afslag of spesifieke voordele kry vir elke vriend wat verwys word. As die huidige kliënte wel tevrede en passievol oor jou produkte en/of dienste is, sal hulle jou onderneming met graagte aanbeveel.
Ontwikkel nuwe produkte
Innoverende ondernemings verstaan dat hulle deurlopend nuwe produkte en dienste moet ontwikkel om te kan groei.
Die leierskorps van alle suksesvolle ondernemings sien die strategiese noodsaak van nuwe produkte in en daarom doen selfs klein ondernemings navorsing en ontwikkeling.
Ons leef in tye waarin verandering aan die orde van die dag is – so ook kliënte se behoeftes. Die suksesvolle onderneming sal kennis neem van dié behoeftes.